Leerders in Landboudal word direk by die boerdery betrek.
Leerders is al reeds vanaf graad 8 en 9 verplig om Landbou te neem. Die doelstelling hiermee is om leerders reeds van graad 8 te prikkel om landbouvakke in graad 10 te neem. Alle graad 8 en 9 leerders word by ‘n roetasieprogram betrek, waar hulle reeds met sekere fasette van die boerdery te make kry.
Leerders in graad 10 tot 12 wat landbouvakke neem, word by die boerdery se bestuursprogram betrek waar hulle soggens en smiddae op die plaas by verskillende afdelings gaan werk en opleiding ontvang. Hier word leerders aangewend om hul praktiese kennis t.o.v. die plaas te verbreed. Aan die einde van elke akademiese jaar moet landbouleerders ‘n bestuursprogram van die faset van die boerdery waarby hy of sy betrokke was, opstel.